Wie's Ons
Die Noordelike Sinode erken dat God ons, deur gemeentes, binne die gemeenskap waarbinne ons geplaas is, gebruik om HOOP bring en ʼn VERSKIL te maak.
As sinode wil ons ’n ondersteunende rol speel deur ʼn verhoudings-gefokusde organisasie te wees wat, in afhanklikheid van God Drie-enig en in die kreatiewe krag van die Heilige Gees, help om gemeentes te bou wat elkeen in eie konteks die Koninkryk van God soek en om die gemeenskap na buite te bereik deur gesamentlike werksaamhede wat nie deur ringe en gemeentes afsonderlik gedoen kan word nie.
Die Noordelike Sinode wil hom, ten opsigte van die verstaan van sy identiteit, in al sy aktiwiteite laat lei deur die volgende kernwaardes:
Besluitneming gegrond op sy verstaan van die Bybel en die belydenisskrifte.
Verbintenis aan die kerkordelike ooreenkoms oor die werkterreine van die onderskeie dele van ons kerklike verband.
Gemeenskaplikheid met ander gelowiges in sy soeke na die wil van God in ‘n veranderende wêreld.
‘n Deernis vir mense in die hantering van diversiteit.
Sensitiwiteit vir die ryke verskeidenheid van gawes wat ringe, gemeentes, geslagte, generasies, kulture en persoonlikhede bied.
Die wydste moontlike betrokkenheid en aktiewe benutting van leraars, kerkraadslede en lidmate by die werksaamhede van die sinode.
Deursigtige besluitneming en administrasie.
* Die kremetart is ‘n Afrika-boom – dit simboliseer die Afrika-kontinent by uitnemendheid.
* Ons is in Afrika, ons is van Afrika, ons is Afrikane – hier gebore vanuit geslagte wat al lankal hier woon; hier groot geword; hier lewe ons, en ons wil in geen ander land wees nie.
* Hoekom deel van ons logo? Dis Afrika, dis groots, dit staan vas en gee vastigheid, dis asof ons almal ons arms om die boom wil sit en mekaar so vashou.
Dit bring ons by die hand – ‘n oop hand wat gee, wat uitgesteek word om te help; ‘n ondersteunende hand; ‘n hand van welwillendheid en openhartigheid en vriendelikheid en naby-wees.
* Uiteindelik is dit God se hand wat sigbaar word in hierdie wêreld deur ons hande.
Die kruis? Hoe anders!
Die kruis vorm die fokuspunt, die middelpunt – ingeweef in die kremetartboom. Dis asof die boom uiteindelik vir ons die kruis word.
* En so rig ons – hier in Suider-Afrika – ook ons oog op die kruis; dra ons ons kruis, ons tipiese Suider-Afrikaanse kruis (so dikwels uniek anders as die kruise van die res van die wêreld); bring ons hoop en maak ons ‘n verskil omdat ons leef onder en vanuit hierdie Kruis.
INTERESSANTE STUKKIE GESKIEDENIS
Koos Nel [Haakdoorn] het die volgende uit Wikipedia vir ons gestuur:
In Pretoria bly Leipoldt aanvanklik by sy suster Issa en haar man, die Engelse predikant Robert Pattison. Hierdie reëling eindig in Oktober 1918, toe Leipoldt nie langer Issa se moeilike temperament en haar kinders se onbeheerste gedrag kan hanteer nie. Hy bly daarna vir ’n ruk in die Pretoria Club.
Volgens oorlewering bly hy hierna ’n ruk saam met Eugène Marais, maar hierdie saamwonery, as dit plaasgevind het, het binne ’n kort rukkie in ’n botsing geëindig.
Hierna is die verhouding tussen hierdie twee digters stram. In November 1919 betaal Leipoldt sy studieskuld aan dr. Bolus finaal af en koop vir hom ’n huis in Mearsstraat 125, Sunnyside, waar sy neef Ewald Esselen en sy gesin die huis met hom deel. Mearsstraat 125 is vandag die tuiste van die Noordelike Sinode.