
13 Februarie 2026
Welkom by hierdie uitgawe met die volgende inhoud.
Vorige uitgawes
Lees dit hier deur op die onderstaande skakel te kliek.
Varsnuus
Kerkorde en aanvullende bepalings
Die opdateerde weergawe van die Noordelike Sinode se Kerkorde en aanvullende bepalings is op die sinode se webblad beskikbaar.
Lesers kan ook die pdf-weergawe hier aflaai.
As jou gemeente 'n gedrukte weergawe benodig, kan jul R160 per eenheid aan die Sinodekantoor oorbetaal. Gebruik die woord "Kerkorde" as verwysing. Epos jou betalingsbewys en die aantal wat jul benodig aan [email protected].
Gedrukte weergawes sal tydens die SDR vergadering op 4 Maart, aan die onderskeie ringverteenwoordigers voorsien word, of gemeentes is welkom om dit by die sinode af te haal ná die 4de Maart.
Slegs 20 kopieë word gedruk.

Kerkkalender
Verheerlikingsondag, 15 Februarie
Die kerklike fees van Verheerliking (ook bekend as Transfigurasie) word op die laaste Sondag voor Lydenstyd gevier, vanjaar dus op 15 Februarie. Dit is tegelyk ook die afsluiting van die kort seisoen van Sondae ná Epifanie – ’n seisoen waarin daar nagedink word oor die betekenis van God se verskyning (epifanie) in die lewe en werk van sy Seun, Jesus Christus. Die fokus van die fees van Verheerliking is op die verhaal van Jesus wat saam met drie van sy dissipels, Petrus, Johannes en Jakobus, na ’n hoë berg gegaan het en sy voorkoms wat toe op dramatiese wyse voor hulle oë verander (“getransfigureer”) het. Lees meer hieroor in 'n Kerkbode artikel, hier.
Aswoensdag, 18 Februarie
Lydenstyd strek vanaf Aswoensdag (18 Februarie) tot die dag voor Opstandingsondag (Stil Saterdag). Indien die Sondae in hierdie tyd uitgesluit word, is dit ’n tydperk van 40 dae, dieselfde aantal dae wat Jesus in die woestyn deurgebring het. Sondae was nog altyd vir die Kerk die viering van Jesus se opstanding en daarom nie deel van die vastyd van Lydenstyd nie. Aswoensdag (en Lydenstyd wat daarop volg) is tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing in die lewe van gelowiges en gemeentes. Die 40-dae tydperk voor Opstandingsondag is reeds in die jaar 313 n.C. as ‘n amptelike viering op die Christelike kalender aangedui. In Lydenstyd doen gelowiges selfondersoek en beoefen ons geloofsgewoontes soos vas, bid en om ander te dien.

Sinodenuus

SDR vergadering
Neem kennis dat die SDR vergadering op 4 Maart om 09:00 by Universiteitsoord Gemeente gehou word.

Leraarontginning
Die geleentheid word vanaf 9 tot 10 Maart gehou. Dit bied aan predikante die geleentheid om in 'n vertroulike ruimte in die spieël te kyk. Plek is beperk. Kontak sou gou moontlik een van die volgende persone vir inskrywings en navrae: Paullet Grobler 076 841 1568 / Bennie Powell 082 305 4444 / Paul Grobler 082 653 5734.

Fasiliteerders vir In Pas
Lourens Bosman, vroeër die Algemene Bestuurder van die Algemene Sinode skryf: “Tydens die Algemene Sinode van 2023 is die ontwikkeling van ’n missionale kultuur deur die gebruik van die publikasie In Pas, geïdentifiseer as een van die hoogste prioriteite. Om dit te doen, het die taakspan ‘n kursus vir fasiliteerders onwikkel. Dit is in 2025 vir die eerste keer aangebied. ’n Volgende opleidingsgeleentheid vind van 24 tot 26 Maart te eMseni aan die Oos-Rand plaas.”
Predikante, en lidmate wat graag as fasiliteerders opgelei wil word, moet asb. so gou moontlik vir Elmarie Jooste 082 496 6317 / [email protected] of vir Paul Grobler 082 653 5734 / [email protected] kontak. Navrae kan ook aan hulle gerig word. Die koste van die opleiding word deur die Sinode betaal.

Ander belangrike datums
'n Opsomming van die mees belangrike datums vir vanjaar is op die sinode se webwerf beskikbaar. Hierdie datums en besonderhede oor die geleenthede word deurlopend op die webwerf bygewerk. Gebruik hierdie skakel en dateer jou dagboek op.

Kolleganuus

Verjaarsdae
As jy of jou eggenoot die week verjaar en jul besonderhede is nie gelys nie, laat weet asseblief vir Elmarie by [email protected] of 0824966317.
Leraars
14 Februarie Jacques Heymans (Kameeldrif)
16 Februarie Christiaan Oberholzer (Universiteitsoord)
18 Februarie Jacques Erasmus (Hulp-en-Hoop)
19 Februarie Pieter Devenish (Kerk-in-Suid)
Emeriti
16 Februarie Gert Els
16 Februarie Niekie Lamprecht
17 Februarie Attie Nel
20 Februarie Gustav Claassen
20 Februarie Peet Crous
Eggenote
14 Februarie, Lieze Meiring, eggenote van Arno (Universiteitsoord)
18 Februarie, Nicolene Venter, eggenote van Peet (Pietpotgietersrust)

Bewegings
Emeriteer
Etienne van Staden emeriteer op 28 Februarie en hy lewer sy afskeidspreek op 22 Februarie by Soutpansberg Gemeente. Hy en Sannie Esther gaan steeds voort met hulle boerdery belange by Dendron.
Afskeid
Anton Pienaar se kontraktydperk verstryk en hy lewer op Sondag, 22 Februarie sy afskeidpreek by Stellastraat Gemeente.

Leef Gesond!
Volkome vryheid
Verslawing vernietig meer as net gesondheid. Dit kan waardigheid, verhoudings en lewensvreugde steel. Die Stabilis Behandelingsentrum in Pretoria bied al vir vyf dekades hoop aan individue en gesinne. Gestig in 1962 en gegrond op Christelike waardes, is Stabilis daartoe verbind om die pad na herstel saam met mense te stap.
Verslawing is nooit slegs ’n individuele stryd nie. Gesinne en geliefdes word diep geraak, en Stabilis voorsien ook aan gesinne en geliefdes die nodige leiding, raad en begrip wat hul benodig.
Vir meer inligting oor die dienste en behandeling wat Stabilis bied, besoek gerus hulle webwerf hier.

Benut jou Tempo voordele!
Verbeter jou eetgewoontes.
Deel van die Tempo Leefstylprogram wat Bestmed Mediese Skema aan alle afhanklikes ouer as sestienjaar bied, is twee konsultasies by 'n netwerkdieetkundige. Die koste hiervan word nie uit jou Spaarrekening betaal nie, maar word as Voorkomende Voordele befonds. Hierdie voordele is beskikbaar op alle opsies - van die Beat 1 (Hospitaalplan) tot en met die Pace 3 (Omvattende plan).
Hoe kry jy toegang tot die voordele?
Jy moet op die Tempo program geregistreer het, met ander woorde, jy moet jou leefstylvraelys voltooi het en ook die siftingstoetse by 'n netwerkapteek voltooi het. Sodra die stap afgehandel is, sal jy toegang tot die dieetkundige konsultasies hê.
Wat behels die dieetkundige konsultasies?
1ste konsultasie: Die netwerkdieetkundige sal jou huidige eetgewoontes met jou bespreek nadat hul die resultate van die siftingstoets en leefstylvraelys met jou deurgegaan het. Jy het die geleentheid om jou eie doelwitte te kies en ook enige voedinguitdagings wat jy ervaar met die kundige te bespreek. Die dieetkundige sal vir jou 'n maaltydplan saamstel dienooreenkomstig jou spesifieke doelwitte.
2de konsultasie: Hierdie konsultasie vind plaas nadat jy jou leefstylveranderinge vir 'n tyd implementeer het sodat jul saam jou vordering kan bepaal. Indien nodig kan jul aanpassings aan jou maaltydplan maak en jy kan weer jou uitdagings wat jy ervaar het met die kundige bespreek en advies ontvang van hoe om dit te oorkom.
Vir meer inligting oor die dieetkundige voordele en advies oor gesonde eetgewoontes, besoek gerus die Tempo webwerf, hier.

Gemeentenuus
Stigtingsdatums
As jou gemeente se stigtingsdatum nie ooreenstem met die inligting wat in Verskil ingesluit word nie, laat weet ons asseblief deur met Elmarie te skakel by 0824966317 of stuur ’n epos aan [email protected].
Geen
Gebeure
Bergtuin Gemeente
Tydens ’n vergadering van die kerkraad gehou op 16 Augustus 2025 is besluit dat Bergtuin Gemeente na 51 jaar, op 28 Februarie 2026 gaan ontbind. Die laaste erediens in die gemeente sal op Sondag 22 Februarie 2026 om 08:00 plaasvind. Lees hier meer oor mylpale in die gemeente se geskiedenis en ook die verloop van die proses sedert 2021.

Aktiwiteite
As jy inligting oor aktiwiteite in jou gemeente met Verskillesers wil deel, stuur dit betyds aan [email protected]. Ons plaas ook graag inligting oor die sukses van gebeure na afloop daarvan. Deel jul ervarings met ons.
Riviera-Jakaranda

Lynnwood

The Reeds

Florandia

Toerusting
Excelsus
Excelsus bied op die 19de Februarie 'n spesiale geleentheid aan in Praktiese Teologie getiteld: Hoe't ons gemaak? Hoe maak ons nou? Hoe kan ons vorentoe maak? Tydens die aanlyngeleentheid sal nege kundiges as sprekers optree. Die sprekers sluit onder andere in Prof. Christo Lombaard; Prof. Stephan de Beer; Dr. Mangaliso Matshobane; Prof. Maake Masango; Dr. Dieter de Bruin; Prof. Malan Nel; Dr. Annelie Botha en Prof. Yolanda Dreyer. Van die temas wat tydens die vier sessies hanteer sal word sluit in Geloofspraktyke: geloofskapitaal en geloofsgebaseerde organisasies; Gemeente- en predikingpraktyk en Pastorale praktyke.
Oorweeg gerus om vir die webinar te registreer deur van hierdie skakel gebruik te maak.
Registreer hier: https://forms.gle/MChoRAdPSGKz8CF76

Meer inligting: https://www.excelsus.org/aanbiedings/praktiese-teologie-in-2026/
Excelsus se beplanning vir 2026 is op hul webwerf beskikbaar.
Vakatures

Gemeentes is welkom om inligting oor vakatures in die Verskil te laat plaas. Deel asseblief besonderhede met [email protected].
Rustenburg-Moedergemeente
'n Leraarspos is beskikbaar in die gemeente. Besonderhede oor die posisie is hier beskikbaar.
Sluitingsdatum: 15 Februarie 2026
Raslouw Gemeente (Centurion)
'n Kantoorassistentpos is beskikbaar in die gemeente. Besonderhede oor die posisie is hier beskikbaar.
Sluitingsdatum: 21 Februarie 2026
Stad-op-die-Berg Gemeente (Louis Trichardt)
'n Mede-leraarspos is beskikbaar in die gemeente. Besonderhede oor die posisie is hier beskikbaar.
Sluitingsdatum: 26 Februarie 2026
Môregloed Gemeente
'n Leraarspos is beskikbaar in die gemeente. Besonderhede oor die posisie en vergoeding is hier beskikbaar.
Sluitingsdatum: 28 Februarie 2026
Ander
Besoek die Kerkbode vir meer inligting oor vakatures. https://kerkbode.christians.co.za/category/vakatures

Ander Nuus

Epos of E-pos?
Die afgelope tyd het die e-wêreld vinniger as enige ander wêreld ontwikkel en sukkel ons om op hoogte te bly van die korrekte spelling van woorde wat hiermee gepaardgaan.
Lees hier of jou epos nie dalk e-pos moet wees nie.

Dateer jou inligting op
Dit mag moontlik wees dat jou persoonlike kontakbesonderhede of die funksionele rol wat jy in die gemeente of ring het, onlangs verander het. Verseker dat jou inligting op die sinode se databasis korrek is ten einde belangrike korrespondensie te ontvang.
Dateer jou besonderhede hier op.
Vorige uitgawes
Lees dit hier deur op die onderstaande skakel te kliek.
