Gemeentenuus - Bergtuin

Bergtuin Gemeente
28-10-1974 tot 28-02-2026
Danie Janse van Rensburg (Voorsitter van Bergtuin Gemeente kerkraad) skryf:
"Die Ring van Derdepoort asook die Noordelike Sinode was reeds ’n geruime tyd betrokke by die toekomsbeplanning van Bergtuin gemeente wat in 2021 uitgeloop het op die ondertekening van die kombinasie ooreenkoms tussen Bergtuin- en Jan Niemandpark gemeentes ingevolge Reglement 27 van die Kerkorde.
Die Kerkraad het van meet af verteenwoordigers van die Ring van Derdepoort asook van die Noordelike Sinode ingesluit in die verdere besinning oor Bergtuin gemeente se toekoms wat gedurende die tweede kwartaal van 2025 momentum gekry het.
Tydens ’n vergadering van die kerkraad gehou op 16 Augustus 2025 is besluit dat Bergtuin gemeente na 51 jaar, op 28 Februarie 2026 gaan ontbind. Die die laaste erediens in Bergtuin gemeente sal op Sondag 22 Februarie 2026 om 08:00 plaasvind.
Na deeglike ondersoek en intense beraadslaging, het dit duidelik geword dat daar nog voldoende reserwe fondse beskikbaar is om die kernbepalings van Artikels 48-58 van die Kerkorde aan ‘n baie klein getal aktiewe gemeentelede nog vir ‘n tyd te kan nakom. Die Kerkraad het tot die oortuiging gegroei dat die aanwending van die fondse tans nie optimaal in die funksionering van die kerklike roeping en koninkryk aangewend word nie.
Die bepalings en implikasies van Reglement 27, par 2-4 is deeglik bespreek. Daarvolgens het die gemeente d.m.v. ‘n WhatsApp-meningspeiling die ingeskrewe lidmate van die gemeente se mening oor die toekoms van Bergtuin gemeente getoets. Die uitslag van die die peiling het met ’n beduidende meerderheid teen die status quo beslis. Die kerkraad het na aanleiding daarvan op 16 Augustus 2025 besluit, om na deeglike oorweging van eenwording of samesmelting, eerder te ontbind en die oorblywende fondse na goeddunke van die Kerkraad aan verdienstelike organisasies/instansies te skenk waarvan die grootste deel aan bedieninge binne die Sinodale verband van die Noordelike Sinode gesetel is.
Die Kerkraad sal vir die laaste keer op Saterdag 14 Februarie 2026 vergader om die finale besonderhede van die sluitingsplan goed te keur. Dit sluit onder andere die versamel vir versending van relevante dokumentasie aan die Argief, gedurende Maart 2026, in.
In teenstelling met die feestelike atmosfeer van die 50 jarige bestaansherdenking gedurende 2024, is besluit dat die sluiting van die gemeente nie in ‘n feestelike atmosfeer sal plaasvind nie. Die laaste erediens op 22 Februarie 2026 waartydens nagmaal ook bedien sal word, sal net soos die normale eredienste onder leiding van Ds Janse van Rensburg plaasvind.
Verteenwoordigers van die Noordelike Sinode, die Ring van Derdepoort, oud-lidmate en ander belanghebbendes word vriendelik uitgenooi om die erediens by te woon en selfs ’n boodskap aan die gemeente te stuur. Stuur jul boodskappe aan [email protected].
Die Kerkraad is pynlik bewus van al die emosies en sentimente rondom die ontbinding van die gemeente. Formele en onderlinge gesprekke oor die voorbestaan van Bergtuin gemeente is vir langer as die vorige jaar reeds bespreek en bedink. Die Kerkraad is van mening dat emosies bedaar het en dat Bergtuin lidmate gereed is vir lidmaat-wees binne ’n nuwe omgewing.
Die vrywillige aansluiting van die Bergtuin lidmate by enige van die nabygeleë gemeentes in die Moot of elders, berus op die keuse van elk van die lidmate. Die Kerkraad sal funksioneer tot 28 Februarie 2026 wat ook sal impliseer dat kerkraadslede eers vanaf
01 Maart 2026 aansoek vir oorplasing van lidmaatskapsbewyse na ‘n nuwe gemeente sal kan doen.
Die Kerkraad spreek ’n opregte woord van dank uit teenoor die Ring van Derdepoort en die Noordelike Sinode vir hulle deurlopende betrokkenheid by Bergtuin Gemeente in die soeke na werkbare en volhoubare bedieningstrukture."
Mylpale van die gemeente gedurende die afgelope 50 jaar.
1974 - Afstigting van Derdepoort Moedergemeente met ds. JP Grobler (Paul Grobler se pa) as eerste leraar.
1978 - Ds. Grobler emeriteer weens mediese redes.
1978 - Ds. Bertus Olivier word as leraar bevestig.
1985 - Inwyding van nuutgeboude kerkgebou.
1995 - Gemeente vier haar 21ste bestaansjaar.
2000 - Pastorie word verkoop.
2006 - Kerkgebou word verkoop aan die Vrye Gereformeerde Kerk.
2013 - Ds. Bertus Olivier emeriteer op 31 Mei 2013 na 35 jaar van getroue bediening in Bergtuin Gemeente.
2013 - Ds. Fanie Steyn word as brugleraar bevestig.
2016 - Ds. Enslin van Velden word as leraar bevestig.
2021 - Ds. Enslin van Velden neem die beroep na Somerset-Oos gemeente aan.
2022 - Ds. Danie van Rensburg word bevestig as leraar van die kombinasie gemeente Bergtuin-Jan Niemandpark.

Gemeentenuus
