
My belewenisse tydens die predikantesaamkoms
Erick van Breda (Florauna Gemeente) se: "Ek het daagliks enkele van my belewenisse van en tydens die Predikante-samekoms met die gemeente gedeel. Hierdie is 'n uittreksel uit my dagjoernaal.
Die Heilige Stilte van God se Woord
By ons onlangse predikante-samekoms het ons elke oggend en aand die voorreg gehad om saam in besonderse, Gees geïnspireerde eredienste te aanbid. Een van die mees indrukwekkende en heilige oomblikke was toe ons die Skriflesing eers in Afrikaans gehoor het, en daarna in ’n ander Suid-Afrikaanse taal.
Die oggend wat my en baie ander egter die diepste getref het, was toe die tweede Skriflesing in gebaretaal uitgebeeld is. Zander van der Westhuizen het vooraf gevra dat niemand die gebare hardop moes vertaal nie. Hy wou hê ons moes die oomblik beleef net soos wat ’n dowe persoon dit sou ervaar. Wat gevolg het, was ’n heilige oomblik. Jy kon letterlik ’n speld hoor val in die ruimte, maar tussen die stilte deur kon jy die snikke van mense hoor wat diep geraak is. Sonder ’n enkele gesproke woord het God se teenwoordigheid die vertrek gevul.
Hierdie heilige stilte het iets besonders van God se hart openbaar: die liefde, vreugde en vrede van die Here Jesus Christus ken geen grense nie. Sy Woord is nie net vir een taal of kultuur nie, maar spreek tot alle volke, nasies en mense — selfs in die stilte van gebare. Dit was ongetwyfeld een van die grootste hoogtepunte van die hele saamkoms.

Dag 2 - Predikante SAAMKOMS
Enige iemand wat my al ooit oor my roeping uitgevra het, het beslis al gehoor van Paul Barnard en sy preek in die kapel by die Andrew Murray Spiritualiteit sentrum. Dit was daardie aand in 2023, toe hy oor Romeine 10:15 gepreek het, wat my eie roeping vir die eerste keer vas gesement is.
Min het ek geweet dat die Here jare later, tydens 'n Predikante saamkoms, weer vir Paul sou gebruik om daardie selfde roeping te herbevestig. Ek en Gerald het op Paul en sy seun Jorgen afgekom. Midde-in 'n heel gemaklike geselskap vertel Paul my toe dat hy graag in sy persoonlike stiltetyd na ander dominees se preke kyk — en dat hy homself al hoe meer kry waar hy spesifiek na my preke soek.
Terwyl ek hierdie woorde skryf, loop die trane van blydskap sommer weer oor my wange. Sien, dit is net ons Here Jesus wat sulke oomblikke kan beskik en bepaal.
Dankie, Paul, vir jou gehoorsaamheid daardie dag en vir die manier waarop jou bemoediging my geloofspad bly vorm.

Die Teenoorgestelde van Liefde
Nog ’n oomblik wat my tydens die SAAMKOMS diep getref en wakker geruk het, was toe Jaco Strydom oor die wese van liefde gesels het. Hy het die vreemde stelling gemaak dat die teenoorgestelde van liefde nie haat is nie. Hy verduidelik dat die sakeman wat fabrieksafval in ’n rivier stort, nie die natuur haat nie — hy geniet waarskynlik selfs natuur programme op TV of vakansies in die Wildtuin. Hy wil eenvoudig net homself verder verryk. Sy optrede spruit nie uit haat teenoor die skepping nie, maar suiwer uit selfsug.
Dit maak die teenoorgestelde van liefde dalk nog donkerder as haat, en dit vra dat ons dieper na onsself moet kyk. Ons dink dikwels ons het liefde onder die knie net omdat ons niemand "haat" nie. Maar as Jesus ons voorbeeld is van volkome diensbaarheid en selfopofferende liefde, is die deurslaggewende vraag nie of ons haat in ons harte dra nie, maar waar daar nog verborge selfsug skuil. Waar stel ek my eie gerief, gewin of belange nog bo dié van ander? Wanneer ons ons eie selfsug eerlik ontmasker, besef ons net weer hoe dringend ons die Here se genade nodig het om werklik lief te hê soos Hy.

Vroegoggend Koffie saam met Stephan Joubert
Ek maak geen geheim daarvan dat ek sekerlik een van Stephan Joubert se grootste aanhangers is nie. Ek en my broer Gerald Kamfer verwys gereeld na Stephan as ons hedendaagse Paulus. Op die eerste oggend van die Saamkoms kry ons vir Stephan by die koffiestalletjie en dit gee ons die geleentheid om net so bietjie op te vang.
Op ń stadium sê Stephan vir my hy voel bietjie angstig oor die sessie wat hy moet aanbied en net daar stik ek amper aan my koffie. Ek sê dadelik vir hom dat ek half gehoop het die angstigheid sal een of ander tyd verbygaan (ek is mos maar nog nuut in die preek ding), Stephan se antwoord sal my altyd by bly: “Ek voel altyd die erns van God se Woord”.
Mag ons almal, altyd herinner word van die erns van God se Woord!

Die finale aand
Die finale aand van die predikante-SAAMKOMS sal my altyd bybly as ’n buitengewone en heilige oomblik. Die laaste vertoning het die hele byeenkoms op ’n hoogtepunt afgesluit. Wat my egter die diepste geraak het, was die visie van die organiseerders. Hulle was verfrissend nederig, pleks daarvan om net teoloë en geleerdes op die verhoog te plaas, het hulle die saal verras deur Jo Black as die finale gaskunstenaar te verwelkom.
Hier is ’n man sonder enige formele teologiese agtergrond, maar met ’n onmiskenbare, opregte liefde vir die Here en ’n diep begrip van God se genade. Om te sien hoe hy 700 predikante doodeenvoudig kon inspireer, het vir my persoonlik ongelooflik baie beteken. Jo het elkeen van ons in daardie saal herinner aan die kern van ons roeping: om die Here met ’n eerlike, oop hart te dien en Sy genade onvoorwaardelik uit te leef - en dit alles met ń onvanpaste grap of twee tussenin… 😂👏🏼

Ons hoef dit nooit alleen te doen nie
In ’n ongelooflike lesing oor “Twyfel” deur Roedolf Botha het ek net opnuut besef: niemand van ons is gemaak om dissipelskap alleen aan te durf nie. Die liggaam van Christus is lewend en, nog meer belangrik, dit is lewegewend deur die Gees. Ek het op hierdie SAAMKOMS opnuut bewus geword van die absolute krag om EEN te wees in Christus. Ek het dit gesien en gevoel in elke klein, kosbare oomblik:
In die oneindig kosbare geselsies met my broer Gerald Kamfer.
In my sussie in Christus, Nelda, wat net haar hand sag op my rug gesit het terwyl ek snot en trane huil op die lied “As Ek eerlik is”.
In Annette Potgieter wat die mees hartroerende gebed van seën gebid het oor Leandra en haar baba wat op pad is.
In my vriend en mentor Tom Smith, waarmee ek nie eens regtig tyd kon spandeer nie omdat hy so besig was, maar wat steeds nie te besig wees om my net ’n druk in die verbyloop te gee nie.
In ’n lekker koffie en preek praat saam my vriend Mikal en die ongelooflike eenheid sien van die Oosterlig span.
In die oomblik toe ek my vriendin Hendrien vir die eerste keer in jare sien, en beleef hoeveel vreugde sy uit die bediening kry.
In bemoediging ontvang van lewende geloofshelde Paul & Anandie.
In Roedolf Botha wat vir my ń WhatsApp stuur net om te sê hy is jammer ons kon nie bymekaar uitkom daar nie.
In die beleef van samewerking tussen die organiseerders wat almal van ons sonder woorde gelaat het – dit sê baie, onthou dominees like van praat.
Stil-stil het die besef in my hart kom lê: ons kán hierdie werk en hierdie pad eenvoudig nie alleen stap nie. Maar die mooiste van alles — die grootste genade van God — is dat ons dit ook nooit alleen hoef te doen nie.

Erick van Breda
