CMRN Damestee

September 10, 20264 min read

CMR Noord High Tea-damesoggend

’n Damesoggend met hope hart

Daar was mooi tafels, interessante serpe, musiek, stories wat geraak het – en selfs ’n skilpad wat ’n saal vol vroue aan die dans gekry het. CMR Noord se damesoggend op Saterdag 5 September by NG Kerk Stellastraat was van die eerste koppie tee af ’n besonderse kuier.

blou


Martie Truter het as seremoniemeester gesorg dat die program met gemak en heelwat humor verloop, terwyl die gaste die geleentheid aangegryp het om saam te kuier, te lag, inkopies by die uitstallers te doen en natuurlik aan die talle gelukstrekkings deel te neem.

01

Ronel Aylward (algemene bestuurder van CMR Noord) en Martie Truter (seremoniemeester)


Ds Fay van Eden, leraar by Stellastraatkerk, het die verrigtinge met gebed geopen, waarna dr. Ronel Aylward, Algemene Bestuurder van CMR Noord, die gaste meer vertel het van die organisasie en die werk wat daagliks gedoen word om hoop aan kinders, gesinne en gemeenskappe te bring. ’n Korporatiewe video het ook ’n kykie gegee na CMR Noord se werk.

gaste

Elke gas het ‘n geskenksakkie ontvang met ‘n heerlike verskeidenheid geskenkies, o.a. geskenkbewyse van Denver Spur en The Image Initiative.

sonnep


Musiek wat niemand stil laat sit het nie

Gaskunstenaar Jezelle het vroeg reeds die energie in die saal ’n hupstoot gegee. Dié Namibië-gebore Pretorianer, bekend vir onder meer haar treffer Suidwes, het gewys waarom sy landwyd naam maak.

En die dames het min aanmoediging nodig gehad om deel van die pret te word. Toe Jezelle sing, is daar met oorgawe saamgesing en saamgedans.

Later het nóg ’n karakter die dansvloer behoorlik aan die gang gekry: Toby die Skilpad. CMR Noord se gelukbringer het eers die danspassies gewys – en toe was dit die gaste se beurt. Die Toby-dansie is met groot entoesiasme aangepak en het vir een van die vrolikste oomblikke van die oggend gesorg.

Toby

Stories van moed

Die oggend het egter ook ruimte gebied vir dieper oomblikke.

Gasspreker Ronellé Foster het haar merkwaardige verhaal van kanker, geloof, moed en deursettingsvermoë gedeel. Sy is in Julie 2020 met akute miëloïede leukemie gediagnoseer en is sedert 12 Desember 2023 leukemie-vry.

Ronel

Ronellé Foster by die suurlemoentafel.

Met haar kenmerkende humor en lewenslus het sy vertel van die lesse wat haar kankerreis haar geleer het en haar boodskap gedeel om die lewe met egtheid en dankbaarheid aan te pak. Ronellé is ook die skrywer van Kanker het my lewe gered en stigter van die B Positive-inisiatief.

ronel 2

Ronel Aylward en Ronellé Foster


Carina Erlank se persoonlike verhaal het op sy beurt herinner aan die hoop wat moontlik is wanneer ’n mens se omstandighede verander. Sy het haar hartroerende reis van hopelose omstandighede na ’n vervullende lewe en loopbaan gedeel. Vandag werk sy by DVOS, die Derdepoort Voorskoolse Ontwikkelingsentrum in Pretoria.

Iets moois om huis toe te neem

Die dames het ook gewys dat hulle nie bang is vir ’n bietjie gesonde kompetisie nie. Pryse is toegeken vir die tafel wat die tema die beste uitgebeeld het en die interessantste serp, terwyl gelukstrekkings deur die loop van die oggend vir ekstra opwinding gesorg het.

blou2

Die uitstallers het nog ’n dimensie aan die oggend gegee. Van handgemaakte juwele en leerprodukte tot styl en ander bederfprodukte het gaste genoeg rede gehad om tussen die programitems deur rond te snuffel en inkopies te doen.

’n Hoogtepunt was die veiling van vier besondere items: ’n naweek by Elements Private Golf Reserve, ’n wegbreek vir twee by 26 Degrees South Hotel, ’n persoonlike kleuranalise deur Martie Truter en Scuta One, ’n unieke halssnoer deur die Pretoriaanse kunstenaar Sanet du Plessis.

Daar was boonop ’n indrukwekkende verskeidenheid lootjiepryse op die spel – van oorspronklike skilderye en Ronellé Voster se boek tot ’n handgemaakte hangertjie, leersak, Sorbet-geskenkpak en Kryolan-grimering.

Trek
Wenners van die lootjiepryse

Maar tussen die pryse, mooi tafels, musiek en vrolikheid was daar ’n belangriker rede waarom almal saamgekom het: om CMR Noord en sy werk te ondersteun.

Die sukses van die damesoggend was te danke aan elke gas wat ’n kaartjie gekoop, ’n lootjie gewaag, saamgebie, by ’n uitstaller gekoop, gedans en die dag met soveel gees aangepak het – asook die uitstallers, donateurs, kunstenaars, sprekers en helpers wat hul tyd, produkte en ondersteuning gegee het.

pienk

CMR Noord bedank ook NG Kerk Stellastraat vir die goedgunstige beskikbaarstelling van die lokaal.

Stella

Die eerste CMR Noord-damesoggend het gewys dat ’n goeie doel en ’n goeie kuier uitstekend saamgaan.

En as die Toby-dansie enigiets is om op te oordeel, was hierdie beslis nie die laaste een nie.

CMRN

Back to Blog