Omgeenuus Vergenoeg
Van vêr genoeg, tot Vergenoeg
In die vroeë 1900's het die Britse regering, wat toe in beheer van Kenia was, Suid-Afrikaanse Boere na Kenia genooi om hulle as landbouers in die Skeurvallei te vestig. Vanaf 1903 het baie Afrikanerboere om die dorpie Eldoret begin boer.
Die eerste NG gemeente in Kenia is op 29 November 1908 deur ds. L.M. Louw in die dorpie Nakuru gestig. Hy het die gemeente VERGENOEG genoem, want hy het gesê die Boere het vêr genoeg getrek. Hulle het melktert geëet en jukskei gespeel – vandag se Vergenoeg-mense in Pretoria doen dit nog steeds.
As gevolg van verskeie probleme wat die Boere daar ondervind het, het baie van hulle teruggetrek na Suid-Afrika. Die kerkie was daarom nie meer lewensvatbaar nie.
Op die laaste kerkraadsvergadering in Januarie 1975 is besluit dat die kerkorrel en 'n R40 000-boufonds aan die huidige VERGENOEG geskenk sal word vir die doel van bejaardebehuising.
Vyf erwe is deur die Stadsraad van Pretoria geskenk vir bejaardebehuising waarop VERGENOEG gebou sou word. ’n Gedeelte van die huidige geboue is in 1976 voltooi en die inhuldiging is op 13 September 1977 gehou. Later is nog erwe gekoop en die kompleks is vergroot. Die kerkorrel is tans in die NG Kerk-argief.
Die nuwe VERGENOEG
Gedurende 2022 is daar met ’n opgraderingsprojek begin wat nuwe hysbakke, ’n sonkragstelsel en die vernuwing van elke area van Vergenoeg sou insluit.
Hierdie jaar is die Alzheimer-/demensie-afdeling se eetsaal vergroot en verbeter. ’n Televisie is geïnstalleer wat die mense baie geniet. Daar is ook ’n sonstoep aangebou waar aktiwiteite gedoen word.

Tans word daar ’n aktiwiteitsentrum gebou wat ’n saal vir lyndanse en ander oefeninge sal akkommodeer, asook ’n volwaardige gimnasium vir kragoefeninge om die monster van sarkopenie te beperk en daardeur die lewensgehalte van die inwoners verbeter. ’n Koffiewinkel vir lafenis ná die oefening sal ook beskikbaar wees.

Die opgraderings was baie nodig na ongeveer 48 jaar en dit het gehelp om VERGENOEG ’n gesogde aftreeoord te maak wat dikwels ’n waglys vir verblyfaansoeke het.
Die gebou het ’n gedaanteverwisseling ondergaan, amper soos ’n mot deur metamorfose. Die atmosfeer is modern en lig, en die inwoners geniet dit om hier te woon. Dit gaan immers alles oor die inwoners.

Die opgraderings sal betyds voltooi wees vir die vyftigjarige herdenking van VERGENOEG wat vroeg in 2027 gevier sal word.
Vêr genoeg het nou ‘n nuwe betekenis - vergenoeg wat “tevrede” beteken.
Saamgestel deur Franco Scheffer, Bestuurder van Vergenoeg.

