NS formal

Kerkspieëldata 2026

August 04, 20262 min read

KS1

Ses tendense uit jongste kerklike opname

Die jongste Kerkspieëlopname van die NG Kerk, waaraan 67% van gemeentes deelgeneem het, teken 'n bemoedigende prentjie: al hoe meer gemeentes beskryf hulself as groeiend, finansies is gesonder as in die vorige twee opnames, en erediensbywoning het verbeter.

Sou jy die jongste resultate (2026) vergelyk met dié van 2018 en 2022, is daar ’n paar tendense wat opval.

Meer gemeentes sê hulle groei

Waar net 34% van gemeentes in 2022 hulself as "groeiend" of "dinamies groeiend" beskryf het, het dié syfer in 2026 gestyg tot 47%. Terselfdertyd het die persentasie gemeentes wat sê hulle is "krimpend en/of sterwend" gedaal van 10% (2022) na 7% (2026) — laer as in 2018.

Die groep wat beskryf word as besig met "instandhouding/oorlewing" het ook afgeneem, van 56% na 46%.

Finansies verbeter

In die algemeen lyk gemeentes se finansiële posisies beter. In 2026 het 11% van gemeentes rapporteer dat hul inkomste bo die inflasiekoers groei. Dit is effens hoër as die 7% in 2022. Minder gemeentes beskou hul finansiële situasie as 'n "ernstige bedreiging" vir voortbestaan is. Dit het gedaal van 19% (2022) na 15% (2026).

Erediensbywoning: die kentering ná Covid

Een van die duidelikste tekens van herstel is erediensbywoning. In 2022, kort ná die grendeltydperke, het 68% van gemeentes gesê hul in-kerk-bywoning is swakker as voor Covid. In 2026 verlaag dié persentasie tot 40%. ’n Derde van gemeentes wat aan die opname in 2026 deelgeneem het, beskryf hul erediensbywoning as "beter" as voor Covid (33%), ’n verbetering van 13% (2022).

Wanneer aanlyn- én persoonlike bywoning saam gereken word, sê byna die helfte van gemeentes (45%) hul totale bywoning is nou beter as voor die pandemie — teenoor slegs 25% in 2022.

Tegnologie: WhatsApp floreer, e-pos kwyn

Tegnologiegebruik in gemeentes het ook verander. Byna alle gemeentes (99%) gebruik nou SMS of WhatsApp om met lidmate te kommunikeer.

In die 2026-opname is vir die eerste keer gevra of gemeentes kunsmatige intelligensie in administrasie- en bediening gebruik en 24% doen.

Interessant genoeg het die gebruik van e-pos as kommunikasiemiddel skerp gedaal, van 54% (2022) na 38% (2026), terwyl elektroniese nuusbriewe se gebruik toegeneem het na 54%.

Gasvryheid: 'n waarskuwingsteken

Nie alle tendense is egter positief nie. Alhoewel meer gemeentes sê hulle beoefen doelbewus 'n kultuur van gasvryheid (75%, op van 69%), het die persentasie gemeentes wat aktief nuwe mense in die gemeenskap opsoek, gedaal van 51% na 38%. Programme om kerklos of kerkvervreemde mense te besoek en te nooi, het ook afgeneem, van 21% na 14% — 'n moontlike aanduiding dat gemeentes se interne prosesse herstel, maar hul uitreik na buite bly nog agterweë.

Seniorbediening staan sterker

Die persentasie gemeentes met 'n georganiseerde seniorbediening het gegroei van 54% (2022) na 62% (2026), en spesiale pastorale sorg vir huisgebonde en verswakte bejaardes word nou deur 65% van gemeentes aangebied.

Resultate uit Kerkspieëlresultate (2026-opname)

Elmarie Jooste, Kommunikasiebeampte, Noordelike Sinode

KS2

Back to Blog