
Bring hoop, maak 'n verskil
Bring hoop, maak 'n verskil
Die nasionale repatriasie van immigrante wat vroeër vanjaar begin en in Junie-maand eskaleer het, het gelei tot noodsituasies in Musina (Beitbrug) en ook by verskeie ambassades in Pretoria.
Letterlik duisende mense (gedokumenteerde asook ongedokumenteerde persone) het gedurende hierdie tyd gewag op verwerking van hul dokumentasie en vervoer na hul lande van herkoms. Die regering het besluit dat alle immigrante wat na hulle lande moes terugkeer, deur een grenspos naamlik dié van Beitbrug by Musina, moes reis. Dit het die druk op hulpbronne aansienlik verhoog. Persone wat nie tot in Musina kon reis nie, het hul gewend tot die ambassades in Pretoria om hul reis- of verblyfdokumentasie in orde te kry.

Gemeentes in Limpopo en Pretoria het bewus geword van die nood waarin hierdie sentrums verkeer en het uitgereik na die sameroeper van die Taakspan Rampe, Jack Radford.
Een oproep
’n Versoek vir ondersteuning is aan al die gemeentes gestuur en die reaksie hierop het alle verwagtinge oorskry. Die omvang van die bydraes het die taakspan instaat gestel om, gegewe die spesifieke behoeftes wat beide in Musina en in Pretoria identifiseer is, hulpbronne so toe te deel dat 'n daadwerklike verskil gemaak kon word.

Musina
In Musina het Willie Korb (leraar in Musina) in samewerking met ander taakspanafgevaardigers asook plaaslike organisasies, kos- en sanitêre produkte, klere en water versprei. Willie se span het ook gehelp met bemoediging van die reisigers.

Pretoria
By die ambassades van Mosambiek, Malawië en Zimbabwe het die Ring van Pretoria-Oos gehelp met die voorsiening van etes en verskaffing van items soos komberse en ander benodighede.
Dank
Die Taakspan bedank elkeen vir hul bydrae, ondersteuning en gebede gedurende hierdie krisistydperk in ons streek.
Mag ons as Kerk ’n sigbare teken van Christus se barmhartigheid wees in ’n tyd van groot nood.
Lees die volledige gemeentebrief oor die projek en toekomstige aktiwiteite waar gemeentes betrokke kan raak.
Jack Radford
Sameroeper Taakspan Rampe
