Hendrina Gemeente
Erkenning aan: Tielman Roux, Familienuus - Oostelike Sinode nuusbrief
(21 Julie 2026)
Die NG en NHKA gemeentes Hendrina staak eredienste
Ja, jy lees reg.
Op Sondag 12 April 2026 het die NG en Hervormde gemeentes op Hendrina opgehou om aparte eredienste te hou. Nie omdat daar moeilikheid was nie. Nie omdat een gemeente moes sluit nie. En ook nie omdat ons saamgesmelt het nie.
Inteendeel.
Hierdie storie het reeds in 2021 begin toe die twee gemeentes 'n samewerkingsooreenkoms aangegaan het. Die plan was eenvoudig: dieselfde erediens word om 08:00 by die Hervormde Kerk gehou en weer om 09:00 by die NG Kerk. Twee bedieningspunte, maar een bediening.
Met verloop van tyd het iets besonders gebeur. Die twee kerkrade het mekaar beter leer ken. Gemeentelede het vriende geword. Ons het elke jaar saam aan die nagmaalstafel gesit op Paas Donderdag. Gedurende skoolvakansies is eredienste gesamentlik gehou. En sonder dat iemand dit beplan het, het die verhouding net al hoe sterker gegroei.
Vroeg in 2026 het albei gemeentes afsonderlike gemeentevergaderings gehou. Die gevolgtrekking was verrassend eenvoudig: Waarom aanbid ons nog apart as ons reeds saam leef, saam dien en saam glo?
En so het dit gebeur.
Op die oggend van 12 April het gemeentelede van beide gemeentes voor die NG Kerk se deure bymekaargekom. Die twee leierouderlinge het die deure simbolies oopgemaak en ons het ingestap om as een geloofsfamilie saam te aanbid.
Ons is steeds twee gemeentes volgens ons onderskeie kerkordes. Niemand het verdwyn nie. Niemand het iets verkoop nie. Die NG kerkgebou word gedurende die skoolkwartale gebruik, terwyl die Hervormde kerkgebou ons gedurende skoolvakansies huisves.
Maar ons aanbid saam. Ons dien saam. Ons bedien saam.
Daar word dikwels berig oor spanning en skeuring in kerke. Op Hendrina het ons iets anders beleef. Die Here het ons die genade gegee om oor kerkgrense heen hande te vat met medegelowiges.
En om eerlik te wees? Vir ons voel dit heeltemal natuurlik.
Miskien lê die toekoms van sommige gemeentes nie daarin om minder kerk te wees nie, maar om meer saam kerk te wees. Op Hendrina het ons ontdek dat samewerking nie iets van ons identiteit wegneem nie – dit gee nuwe ruimte vir God om deur ons te werk.


